News / Alle oë op Victoriapark

VERSKILLENDE planne om Victoriapark in die hartjie van Wellington in ’n meer bruikbare bate vir die dorp te omskep, word tans deur die inwoners van die dorp aan die Drakenstein Munisipaliteit voorgelê.

In die een geval het ’n groep inwoners saam met ’n bekende kultuurorganisasie ’n plan voorgelê om die park op te gradeer en rose te plant, terwyl die plan wat die Wellingtonse Sakekamer voorberei, vra dat deel van die park in ’n parkeerterrein omskep word.

Volgens Amanda Kreitzer, een van die Wellingtonners wat aan die spits staan van die plan om die park in ’n roostuin te omskep in samewerking met die ATKV, kan die plan binne die volgende paar maande werklikheid word.

Aanvanklike besware deur die Munisipaliteit dat so ’n ontwikkeling arbeid gaan vereis wat nie deur die Munisipaliteit voorsien kan word nie, is volgens Kreitzer opgelos deurdat planne in plek gestel is om die park met die hulp van vrywilligers in stand te hou. Die park gaan omhein en saans gesluit word.

“Ons glo ook dat hierdie plan nie alleen die middedorp van Wellington dramaties gaan opkikker nie, maar dat dit ook ’n positiewe uitwerking op tuine oral in die dorp sal hê deurdat steggies van eksklusiewe nuwe rose vrylik beskikbaar sal raak vir mense wat dit in hul tuine wil aanplant.”

’n Woordvoerder van die Wellingtonse Sakekamer sê dat hulle in ’n onlangse opname onder sakeondernemings tot die besef gekom het dat die gebrek aan parkering in die middedorp ’n knelpunt vir toekomstige groei raak.

Hulle het ’n oorweldigende positiewe reaksie ontvang op navrae wat hulle uitgestuur het oor die moontlikheid om ’n gedeelte van die park in ’n parkeerterrein te omskep.

“Ons wil hoegenaamd nie die plan om ’n roostuin te ontwikkel afskiet nie, maar indien ’n deel van Victoriapark in ’n parkeergebied omskep word en die oorblywende deel wat aan Kerkstraat grens as ’n roostuin ontwikkel word, sal Victoriapark vir die eerste keer werklik tot voordeel van al Wellington se mense gebruik kan word. Die agterste tweederdes kan parkeerplek vir tot 80 voertuie bied.”

Kenners is van mening dat beide planne moeilik deur die stadsraad goedgekeur sal word, omdat Victoriapark een van die dorp se belangrikste erfenisgebiede is.

“Die heining voor die park en die fasade by die ingang is boonop verklaarde historiese monumente en daar sal selfs vir ’n roostuin fyn beplan moet word om te verseker dat die historiese waarde van dié deel van die park nie deur so ’n ontwikkeling geskaad word nie.

“Die plan om ’n gedeelte van die park as parkeerterrein te gebruik sal in alle waarskynlikheid nie goedgekeur kan word nie.

“Die feit dat ’n soortgelyke plan van die Munisipaliteit om Victoriapark in die Paarl in ’n parkeerterrein te omskep laat vaar is weens teenstand van bewaringsbewustes, is ’n aanduiding van hoe steil die pad vorentoe vir die twee voorstelle is.”

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Friday 2012-05-18
Please select your area for forecast
CPT 12° - 19° icon
PTA 8° - 23° icon
JHB 3° - 21° icon
BLOEM 2° - 22° icon
DBN 15° - 26° icon
PE 10° - 27° icon
Visit WeatherSA.co.za for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs