VIR jare het hy daagliks gewonder of dit die dag is wanneer hy galg toe gestuur gaan word. Maar vandag wonder Willem Jooste as hy wakker word wat hy alles met klei gaan optower.
Jooste (64) was skaars 20 jaar oud toe hy agter tralies beland het nadat hy as lid van ’n bende in Paarl-Oos ’n skrikbewind van roof en aanranding gevoer het.
En in Brandvlei-gevangenis het hierdie bose kringloop nie geëindig nie, maar is net nog ’n tree verder gevoer.
Jooste en drie medegevangenes het een aand ’n ander gevangene vermoor. Die moord was so wreedaardig dat die vier mans die doodstraf opgelê is.
Hulle is na Pollsmoor verskuif en toe na Pretoria-Sentraal waar hulle daagliks op die doodstraf gewag het.
En een oggend het hierdie tyding wel gekom en Jooste se drie makkers is gehang.
Maar wonderbaarlik is daar aan hom gesê dat hy die doodstraf op die nippertjie vrygespring het en sy vonnis is verander na lewenslange gevangenisstraf.
In 1992, ná 22 jaar agter tralies, is Jooste op parool vrygelaat.
As deel van sy paroolvoorwaardes moes hy werk as tuinier by ’n landgoed in Daljosafat.
“Die eerste jare uit die gevangenis was baie moeilik. My liggaam het aan mense die storie vertel van my tronkjare weens die hoeveelheid tatoeëermerke wat ek in die tronk ontvang het. Mense wil niks te doen hê met mense uit die tronk nie. Daar is permanent ’n stempel van wantroue op ons geplaas.
“Ek het dus byna weer die paadjie van misdaad geloop.”
Toe ontmoet Jooste sy toekomstige vrou en kort voor lank is daar twee kinders.
“Hiér het my lewe heeltemal verander. Nou het ek die verantwoordelikheid van ander mense gedra.”
Maar steeds was oorlewing moeilik vir dié oud prisonier. Jooste het hier en daar los werkies gekry. En wanneer die werk opgedroog het, het hy seep gekerf om daarvan standbeeldjies te maak.
So sit hy eendag langs die Bo-Dalpad en kerf seep toe ’n plaaslike boervrou, Helmien van der Westhuizen, verbyry. Sy hou langs hom stil en vra om te sien wat hy doen.
“Die beeldjies wat hy gemaak het van diertjies en dies meer was besonders,” vertel Helmien. “Ek is ’n pottebakker en het hom genooi om plaas toe te kom om te kyk wat ek maak.”
By die plaas gekom, sit Helmien ’n bol klei in Jooste se hande en vra hom om iets te maak, enigiets. Binne oomblikke het hy ’n standbeeld van ’n leeu gemaak, sonder dat hy enige voorbeeld voor hom gehad het.
Vinnig het Jooste deel van die opstal in Daljosafat geword. Hier maak hy daagliks beelde en vase en help met die alledaagse take in Helmien se pottebakkersateljee.
“Hy het soveel talent. Ons moet lesse neem om ons talente te ontwikkel, maar Willem is oënskynlik skeppend gebore. Hy gee my soveel inspirasie.”
En Jooste kan nie gelukkiger wees nie.
“My lewe het begin as straatkind, toe moordenaar en later tronkvoël. Nou het ek rigting en ek kan met trots sê dat ek ’n pottebakker is.”
Jooste is net spyt dat hy nie as kind reeds hierdie geleenthede gehad het nie.
“Ek sou dan heeltemal ’n ander paadjie geloop het. Ek wens net dat die kinders van vandag hul geleenthede sal aangryp en nie op die pad beland wat ek destyds was nie.”