’n OUD-LEERDER van Bergrivier Sekondêr is glo besig om talle mense te bedrieg, deurdat hy onder valse voorwendsels fondse insamel.
Volgens Louis Davids, skoolhoof van Bergrivier Sekondêr, is die 22-jarige man inderdaad ’n oud-leerder van die skool.
“Maar hy samel wederregtelik geld in, kamstig vir ’n atletiekbyeenkoms in Sasolburg waaraan hy moet deelneem.
“Hy is reeds ’n paar jaar gelede uit die skool uit, maar hy klop by mense aan vir geld en dra ’n atletiekfrokkie van Bergrivier Sekondêr.”
Davids vra die gemeenskap om lig teloop en beslis nie vir hierdie man se streke te val nie.
“Indien kinders om fondse vra, kan die skool gekontak word by 021 873 2301 vir navrae hieroor.”