’n MAN en vrou het gesterf nadat hulle houthuis op Klapmuts aan die brand geraak het.
Die tragedie het Sondagaand plaasgevind op ’n stuk grond naby die nuwe stortingsterrein, waar twee informele huise gebou is.
Elizabeth Swartz en Ebrahim Visser het in een van die wonings gewoon. Hulle het na bewering gaan slaap en ’n kers aan die brand gelaat.
Die kers het vermoedelik omgeval en die huis aan die brand gesteek.
Hul bure het hulle uit die vlamme gered, maar hulle het albei op daardie stadium reeds erge brandwonde opgedoen.
Hulle is na die Stellenbosch Hospitaal geneem, maar is albei Maandag oorlede weens hul wonde.