Home / Ou nuus in ons munisipale nuusbrief

EK het Dinsdagoggend (7 Februarie) met ’n lied in my hart ontwaak met die oortuiging dat niks dié heerlike koel dag na die welkome reëntjie van die vorige nag, kon bederf nie.

Ek en my brakkie se vroegoggend “walkie” is verder opgevrolik deur mense wat reeds daardie tyd van die dag besig was om die nuutste uitgawe van die Drakenstein Munisipaliteit se “ Newsletter edition no. 12/13” uit te deel.

Ek vra sommer myne en offer ons staptog op uit blote nuuskierigheid om te sien of dié publikasie al ’n verbetering ondergaan het sedert die vorige munisipale regime.

Toe my oog op die agbare burgemeester se Kersgroete-advertensie val, daal die vorige week se hitte weer op my neer. Kersgroete op die 7de Februarie - kan jy nou meer? Sal dit nou vir 2011 of 2012 wees, wonder ek.

Indien die agbare Raadslid dink hierdie ontydige feesgroete is in orde, dan wil ek haar sommer met haar verjaardag gelukwens, of dit twee maande gelede was of in die verre toekoms!

Hoe verder ek lees, hoe meer styg die kwik. Die lompheid van die Engelse artikel “Together we can save electricity”, wat wemel van spel- en grammatikale foute, sal ’n graad ses-leerder aan die Laerskool Pofadder, laat bloos!

Die Raad onderskat die gemiddelde leser se intellek deur sulke swak versorgde artikels in hul amptelike mondstuk te publiseer. Moenie die drukkersduiwel vir alles die skuld probeer gee nie.

Hier en daar is ’n insiggewende artikel, soos. die een oor “Drakenstein Council meeting snippets”, maar ek is bevrees die meeste ander artikels het min om die lyf. Los ’n slag die artikels wat handel oor sertifikaatoorhandigings, dié wat grens aan selfverheerliking, asook dié wat bloot van akademiese belang is. Dit is so ‘Old school” en afgesaag.

Vervang dit liefs met aktuele insiggewende leesstof soos aspekte wat belastingbetalers se sakke raak, asook vordering op die gebied van dienslewering. Ons verdien beter as wat aan ons opgedis word - dit nogal met ons eie geld!

Helaas word daar steeds voortgebou op die Manuel-era. Ons nuwe burgemeester verskyn nie minder nie as SESTIEN maal in hierdie agt bladsye publikasie! Ek het niks teen haar nie, maar wat te erg is, is te erg.

Komaan Gesie, gee die ander ook ’n kans!

Hoe word daar gesê? As niks verander nie, bly alles dieselfde. Hier lyk dit na: Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Geseënde Kersfees!

 

Marius Retief, Wellington

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Friday 2012-05-18
Please select your area for forecast
CPT 12° - 19° icon
PTA 8° - 23° icon
JHB 3° - 21° icon
BLOEM 2° - 22° icon
DBN 15° - 26° icon
PE 10° - 27° icon
Visit WeatherSA.co.za for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs