’n AKKERBOOM in Fonteinstraat het pas soos die spreekwoordelike kat, sy sewende kans om te oorleef verbygesteek.
Slootgrawers wat besig is om slote vir nuwe kommunikasiekabels in Wellington te grawe, was gedwing om so na aan die akkerboom verby te grawe dat sy wortels erg deur die grawery beskadig is.
Die boom se blare het binne ’n week begin vergeel, verskrompel en kort na die laaste kabel gelê is, het die laaste groenigheidjie uit sy blare verdwyn.
’n Yslike wond in die boomstam wys dat daar reeds lank gelede ’n ernstige aanslag op die boom se lewe was. Iemand was so vriendelik om ’n blok in die groot gat in sy sy te kom druk en daarmee het die boom die aanslae van die jare ewe dapper bly afweer.
Die boom het selfs die sluipslapers van die aangrensende Victoriapark se aanslae oorleef. Hulle het elke winter al sy droë takke kom afbreek om hul nagtelike vuurtjies in die park mee te stook.
Die aanslag van die slootgrawers het egter nou finaal gesorg dat daar hierdie winter meer as genoeg brandhout vir al Victoriapark se sluipslapers sal wees en dat Fonteinstraat finaal sonder sy dapper akkerboom sal wees.