Home / Rolstoel-vriende gee hand

’n LIEDERLIKE ongeluk gedurende die somervakansie het amper ’n jong CPUT-student se droom om vanjaar op Wellington te kom studeer, gekelder.

Singyn Halkerd van Bloubergstrand was tot verlede jaar ’n skolier by Hoër Jongenskool in die Paarl.

Gedurende die somervakansie het hy in Durban van ’n hoë gebou in ’n swembad gespring, hom met die afstand misgis en op sy hakke op die rand van die swembad geland.

“Beide my hakke was totaal vergruis. Dit was die ergste pyn wat ek in my ganse lewe ervaar het.

“Ek is dadelik geopereer en die vergruisde hakke is weer aanmekaar geskroef.

“My drome om B.Rek. by CPUT op Wellington te kom studeer, was oënskynlik verby, want die dokters het gesê ek moet minstens ses maande doodstil in ’n rolstoel bly.”

Singyn is egter ’n baie aktiewe sportman en het geleer om blitsvinnig uit die rolstoel te rol en om in sy ouerhuis hande-viervoet te kruip waar hy wil wees.

Toe die universiteit onlangs vir die nuwe akademiese jaar geopen het, was Singyn daar om in te skryf.

“’n Ongeluk bied op ’n vreemde manier ook voordele. Ek kyk deesdae met nuwe oë na die wonderlike geleenthede wat aan ons gebied word en ek probeer om elke geleentheid wat oor my pad kom met albei hande aan te gryp.”

Volgens hom is Wellington se groot munisipale swembad ’n wonderlike plek om fiks te bly. Hy benut elke moontlike geleentheid om daar te gaan swem en hy voel, snaaks genoeg, hoegenaamd nie lus om ’n draai by die hoë duikplank aan die punt van die swembad te gaan maak nie.

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Friday 2012-05-18
Please select your area for forecast
CPT 12° - 14° icon
PTA 7° - 24° icon
JHB 5° - 21° icon
BLOEM 2° - 23° icon
DBN 16° - 27° icon
PE 9° - 19° icon
Visit WeatherSA.co.za for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs