INBREKERS het verlede naweek ’n groot uitstalvenster van ’n nuwe Wellingtonse drankwinkel flenters geslaan en met ’n klomp drank weggekom terwyl die eienaars van die drankwinkel gesukkel het om toestemming te kry om hul voorraad snags met behulp van rolblindings te beveilig.
Die nuwe drankwinkel van Shoprite op Wellington is verlede Vrydag in ’n gebou langs Kerkstraat geopen wat eers die Wellington Apteek gehuisves het. Om die drank in die drie vertoonvensters langs Kerkstraat te beveilig, het Shoprite spesiale rolblindings laat maak wat al drie vensters snags sou bedek.
Die blindings was egter skaars opgerig, toe lede van Wellingtonse Estetiese Komitee beswaar teen die oprigting van rolblindings langs Kerkstraat aangeteken het. Shoprite is aangesê om nie die blindings saans te laat sak nie. Vroeg Sondagoggend het inbrekers ’n tamaai gat in een van die vertoonvensters geslaan, ’n aantal drankbottels gegryp en laat spaander.
Volgens die Estetiese Komitee is daar nie vooraf aansoek gedoen om rolblindings voor die betrokke vensters op te rig nie. Shoprite voer aan dat daar wel aansoek gedoen is. Burokratiese rompslomp by die Drakenstein Munisipaliteit was glo die rede waarom die Estetiese Komitee nie betyds ingelig is nie.
“Dis moeilik om te verstaan waarom die betrokke rolblindings aanstoot sou gee. Groot koste is aangegaan om blindings te laat maak wat esteties aanvaarbaar is.”