’n MATIE-STUDENT van Wellington met ’n passie vir die natuur, Ethan Newman, het reeds vroeg in sy ontluikende navorsingsloopbaan ’n prestasie behaal waarvan menige wetenskaplike droom: om ’n artikel oor sy studies in ’n toonaangewende wetenskapsjoernaal te publiseer.
Sy navorsingsartikel, Flower colour adaptation in a mimetic orchid, verskyn hierdie maand in die internasionale joernaal Proceedings of the Royal Society B. Dit is die Britse Royal Society se toppublikasie oor biologiese navorsing en dra maandeliks artikels van regoor die wêreld.
In sy artikel beskryf Ethan hoe hy uitgevind het dat die monnikskappie-disa (Disa ferruginea) in twee kleure oranje en rooi voorkom, alles in ’n poging om by die spesifieke streeksgebaseerde kleurvoorkeure van die bergnooientjie-skoenlapper (Aeropetes tulbaghia) aan te baat.
Hierdie aanpassing is uiters belangrik vir die disa se oorlewing, aangesien die sjokolade-bruin bergnooientjie met sy kenmerkende blou “oog” op die vlerke die enigste insek is wat sy blomme bestuif.
Ethan het uitgevind dat op die Kaapse Skiereiland, aan die westekant van hul verspreidingsgebied, bergnooientjies baie duidelik die nektar van rooi blomme verkies. In die oostelike dele van die Wes-Kaap val oranje blomme egter weer in hul smaak.
Volgens Ethan het monnikskappies heel slim by die skoenlapper se streeksgebonde kleurvoorkeur aangepas, sodat ’n mens nou ’n rooi weergawe kry wat in die weste groei, terwyl ‘n oranje variëteit (of fenotipe) regdeur die Suid-Kaap tot aan die ooste van die Wes-Kaap voorkom.
Dié voormalige leerder van Hugenote Hoërskool het die gepubliseerde navorsing gedoen as deel van sy HonsBSc (Plantkunde) studies aan die Universiteit Stellenbosch.
Dit is gedoen in samewerking met sy studieleier, dr Bruce Anderson van Maties se Departement Plant- en Dierkunde, en prof Steven Johnson van die Universiteit van KwaZulu-Natal.
Dit het Ethan dae se veldwerk in die warme somerson en hope geduld gekos, want hy moes ure lank sit en waarneem hoe die skoenlappers op verskillende kleure blomme reageer.
’n Groot deel van sy navorsing is op Tafelberg en in die Langeberge in die Grootvadersbosch Natuurreservaat digby Swellendam gedoen.
Volgens Ethan, wat voorgraads ’n BSc in Biodiversiteit en Ekologie aan die Universiteit Stellenbosch behaal het, het hy van kindsbeen af ’n passie vir die natuur.
Dit is onder meer gestimuleer deur sy pa, Derrick, en sy ma, Anita, wat albei onderwysers aan Charleston Hill Sekondêr is.
Ethan het verlede jaar danksy ondersteuning van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ’n internskap by die US Departement Plant- en Dierkunde gedoen en het talle lede van die Plant-Dier-Interaksienavorsingsgroep in dié departement met hul navorsingsprojekte gehelp.
Vanjaar gaan hy sy nagraadse studies voortsit deur ’n meestersgraad in Plantkunde aan die US te begin oor langtongvlieë, nerinas en irisse. Sy studieleier, dr Bruce Anderson, het net lof vir sy vermoëns.