Home / Man lê dood in straat vir vier uur

DIE lyk van ’n inwoner van Groenleegte aftree-oord in Noorder-Paarl het verlede week bykans vier uur lank onder ’n motor vasgepen gelê, voordat dit van die toneel verwyder is.

Willem Rossouw (88) van Lanquedocstraat, Groenleegte, is omstreeks 10:00 Donderdagoggend deur ’n motor van ’n inwoner getref wat agteruit gery het.

Die bestuurder van die voertuig, ook 88, is ’n buurman van Rossouw. Hy het Rossouw se motor op sy versoek uit die motorhuis getrek. Die twee sou glo saam dorp toe ry, toe Rossouw gestamp en onder die voertuig vasgepen is.

’n Inwoner het die ER-nooddienste geskakel wat vinnig op die toneel was. Paramedici het Rossouw probeer bybring, maar hy het op die toneel gesterf.

Wanneer ’n persoon onnatuurlik sterf, moet die polisie die toneel eers ondersoek voordat die liggaam na ’n lykhuis verwyder mag word.

Volgens ’n woordvoerder van ER, het hulle dus die 112 noodnommer geskakel om die voorval by die polisie te rapporteer, sodat hulle die toneel kon kom ondersoek, en die liggaam na ’n lykhuis kon neem.

Die nooddienste-inbelsentrum sou toe die naaste polisiestasie kontak. ER se beamptes moes na nog ’n noodgeval omsien en het die toneel verlaat.

Maar iewers het iets lelik skeef geloop, want Rossouw se liggaam is eers omstreeks 14:30 deur personeellede van die Paarl Forensiese Dienste verwyder.

Volgens Paarl polisie se stasiebevelvoerder, brigadier Leon Grobbelaar, is hierdie oproep eers deurgegee na Paarl-Oos polisiestasie en Paarl polisie is om 11:14 in verband hiermee in kennis gestel.

Die adres is egter volgens Grobbelaar as ‘Dochstraat’ aangegee en die polisie kon hierdie adres nie vind nie.

“Drie polisievoertuie het die adres tevergeefs probeer vind. Om 12:10 is ons weer hieroor ingelig en dié keer is die adres as Groenleegte aangedui.”

ER het gesê dat hulle beklemtoon het dat die adres wél in Groenleegte, Noorder-Paarl, geleë is. Hulle het bygevoeg dat die polisiebeampte nie die korrekte prosedures met die oproep gevolg het nie, soos om die klaer (’n ER personeellid) se besonderhede, asook ’n kontaknommer aan te vra nie.

Die area-bevelvoerder van dié gebied, brigadier Gideon Hagen, het gesê ’n ondersoek na die vertraging van dienste sal ondersoek word.

Rossouw se familie het gesê hulle koester geen wrok nie en wou nie kommentaar lewer oor die voorval nie.

* The body of an elderly man who died after being run down by a vehicle in a retirement village in Northern Paarl, was left on the scene for four hours before being removed.

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Friday 2012-05-18
Please select your area for forecast
CPT 12° - 14° icon
PTA 7° - 24° icon
JHB 5° - 21° icon
BLOEM 2° - 23° icon
DBN 16° - 27° icon
PE 9° - 19° icon
Visit WeatherSA.co.za for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs