News / Huis verpletter deur weghol-lorrie

’n Familiewoning in Magnoliastraat, Paarl-Oos, is Maandagoggend so te sê platgeslaan deur ’n weghol-vragmotor.

Nou sit ’n familie nie net sonder dak oor hul kop nie, maar met skade aan hul huisraad van derduisende rande.

Die voorval het Maandagoggend omstreeks 08:45 plaasgevind toe ’n vragmotor op ’n konstruksieperseel aan die loop geraak het.

Die vragmotor was op die terrein langs Magnolia Primêr waar paaie tans deur die Kingston Town informele woonbuurt gebou word.

Terwyl ’n ander konstruksievoertuig besig was om die bak van die vragmotor te laai met grond, het die vragmotor, sonder ’n bestuurder daarin, by die bult begin afloop.

Dit het toe oor Magnolialaan geloop, die tuinmuur van die Coetzees platgery en daarna tot in hul woning geploeg.

Johannes Coetzee, wat met siekverlof die dag tuis was, het gesê dat toe hy die slag hoor, het hy gedink dis weer iemand wat by die huis probeer inbreek het.

“Ek het die beddens in ons kinders se kamers net klaar opgemaak toe hoor ek die geweldige slag. Daar was eers ’n oomblik van stilte, toe tuimel die dak byna bo-op my kop.”

Toe Johannes se vrou, Nolene (’n klerk by die Paarl Polisiestasie) die skoknuus ontvang, het vriende haar dadelik te hulp gesnel en huis toe geneem.

“Ek was so geskok toe ek op die toneel kom. Alles waarvoor ons so hard gewerk het, is verpletter.”

Die vragmotor het die hele sitkamer in puin gelê, asook meubels en elektroniese toerusting ter waarde van duisende rande. ’n Slaapkamer is ook beskadig.

Die Coetzees woon saam met hul drie jong kinders in die huis, asook twee loseerders.

Johannes en die loseerders moes sedert Maandagaand self die huis oppas, ten spyte van beloftes van die kontrakteur dat hulle sekuriteitswagte sou aanstel om die huis op te pas.

Die kontrakteur se veiligheid- en gesondheidsagent het kort na die voorval die perseel besoek, asook ’n agent van MBA Boland.

Albei partye sal verslae opstel ten opsigte van die voorval.

 

 

 

 

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Friday 2012-05-18
Please select your area for forecast
CPT 12° - 14° icon
PTA 7° - 24° icon
JHB 5° - 21° icon
BLOEM 2° - 23° icon
DBN 16° - 27° icon
PE 9° - 19° icon
Visit WeatherSA.co.za for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs